Biografie

Die van Aardes van Grootoor, deur Pieter-Dirk Uys, 1979, Markteater, Johannesburg.

My eerste groot tree op die verhoog, as Tertius van Aarde. Die stuk was ‘n treffer, onder regie van Pieter-Dirk Uys.

Die Staatsgetuiedeur Agatha Christie, 1979, Windhoek Teater.

Hier speel ek die hoofrol, Leonard Vole, teenoor  o.a. Mees Xteen en die mooiste aarbei-blondine in Windhoek. Regie Aldo Behrens.

Plaston DNS-kind, deur P.G. du Plessis, 1981, Stadskouburg, Bloemfontein.

Ek was Plaston, saam met groot name soos Siegfried Mynhardt en Louw Verwey op die verhoog. Regisseur Cobus Rossouw het my geweldig baie geleer.

Die Goue Kringdeur Uys Krige, 1982, Stadskouburg, Bloemfontein.

Ek speel kitaar en sing in die rol van die blinde Luis, teenoor Anna Neethling-Pohl en Louw Verwey, onder regie van Sandra Kotze. Uys Krige het die openingsaand kom kyk en my program geteken. Hy’t nie eintlik onthou dat ek in die vertoning was nie, was toe al bietjie gaga, maar wat ‘n oomblik.

Die Potlooddief en die Engel, deur Ampie van Straten, 1985, Staatsteater, Pretoria.

Ek speel die sjarmante potlooddief wat die girl kry aan die einde, die pragtige Jocelyn Broderick. Saam met Trudie Taljaard, Woutrine Theron, Ben Kruger en Frantz Dobrowsky. Ek onthou alles met ‘n reuse glimlag. Toe word ek  genomineer vir die DALRO beste-akteur toekenning. Regie deur Louis van Niekerk.

The Time of the Hyenadeur Mitzi Booysen, 1986, Windybrowteater, Johannesburg. 

Ek en Grethe Fox, Elize Cawood en Pierre Knoesen met Nomhle Nkonyeni as Winnie Mandela, onder die regie van Tjaart Potgieter. Dit was die eerste formele stuk wat opgevoer is in die nuwe teater.

Hamletdeur William Shakespeare, 1987, Staatsteater, Pretoria.

Ek speel Laertes teenoor Marius Weyers se Hamlet, met Sandra Prinsloo as my suster Ophelia, onder regie van Francois Swart. Ek en Marius het ses weke lank ‘n uur op ‘n dag geskerm met épées om die geveg aan die einde reg te laat lyk, en die gehoor het gesnak na hulle asems (van vrees).

Panorama,  deur Pieter-Dirk Uys, 1987, Grahamstadfees.

Hier was ek ‘n tronkbewaarder saam met Susan Coetzer en Thoko Ntshinga in ‘n nuwe stuk van Pieter-Dirk Uys. Lynne Maree het die regie gedoen, en ons wen die prys as die beste stuk op die “fringe”.

Minnaar onder die Wapen (Arms and the Man), deur George Bernard Shaw, 1987, Windhoekteater.

Dit was ‘n warm somer in Windhoek, ek was die sjokolade soldaat met die pragtige  Michelle Botes as my beminde. Mees Xteen, Antoinette Kellermann, Amor Tredoux en Anton Dekker was saam, onder die bekwame hand van Francois Swart.

Die Laaste Strooisaamgestel deur Ilse van Hemert uit die werke van C.J. Langenhoven, 1998, 1999, Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Aardklop Kunstefees, Durban, Bloemfontein, Pretoria, Stellenbosch, Plettenbergbaai.
Langenhoven se tekste. Ons het ver getoer en ons gate uit geniet, ek en Anna-Mart van der Merwe, Cobus Rossouw, Chris van Niekerk en Pieter Brand. Ek het ook ‘n VITA toekenning vir die beste ondersteunende akteur gekry.

Taraboemderydeur Chris Barnard, 2009 by Innibos kunstefees Nelspruit, 2010 by KKNK in Oudtshoorn.
Saam met o.a. Neil Sandilands en Milan Murray onder regie van Albert Maritz. Die stuk word bekroon as een van die beste produksies by Innibos. Die verhoog se vloer waarop ek elke aand moes val was baie hard.

Droomvrou, saamgestel uit die musiek van Lucas Maree, 2012 Woordfees Stellenbosch en KKNK Oudtshoorn.
Ek moes toe Engels praat met ‘n swaar Russiese aksent as Antonina Darienko se pa, met Brandon October as haar man. En gelukkig Lucas Maree se pragtige musiek ook sing.

Resonant, geskryf en ontwikkel deur Ingrid Howard, saam met my en David Clatworthy, 2013 Woordfees Stellenbosch.
Ek en David Clatworthy beeld die roerende verhaal van ‘n Britse edelman en ‘n veteraan Boerekryger uit, 20 jaar na die Anglo-Boere Ooorlog. In 2015 doen ons dit weer in die Drostdy teater in Stellenbosch.

Op Pad, geskryf deur Anton Checkov, Johannesburg Civic Theatre 2014.
Saam met Andre Stolz, Riana Wilkens, Danielle Retief. 

Reik na die Sterre, saamgestel uit groot treffers van die ‘80s, Staatsteater 2014.

Ek speel die rol van Jurgen, die jong held se pa. Saam met Willem Botha, Sarah Theron, Neels Clasen en baie ander.

TELEVISIE (Hoogtepunte)

“1945”, deur Chris Barnard, 1983, Sonneblom Films onder regie van Nic de Jager.

Ek en Gavin van den Berg was broers in die TV-reeks, en Roelien Spruyt ons suster in Chris Barnard se aangrypende storie. Pierre Knoesen, Annelise Bosch, Eric Nobbs, en Lida Botha het ook saam gespeel. Dit was my eerste groot TV-rol. (en Gavin se tweede).

 Die Meisie van Suidwes, 1984, Elmo de Witt films, regie, Reghardt van den Bergh.

Ek en Arnold Vosloo het mekaar lekker gemoer op die kaai in Swakopmund. Ek was die goeie ou en hy die slegte ou, Ek was die outjie wat op ‘n scrambler van Johannesburg tot in Swakopmund gery het agter sy geliefde  aan, gespeel deur Pamela Gien. Arnold en Pamela woon deesdae in Amerika. Pierre Knoesen, Elzabe Zietsman en wyle oom Alex Heyns was ook daar.

Die Mannheim Sage, deur Lerina Erasmus, SAUK 1986, regie: Koos Roets.
My eerste werk saam met Koos, en die begin van ‘n wedersydse respek. Ek speel die klein   k-k van ‘n Karel Mannheim, met die beeldskone Sandra Prinsloo as my vrou. Ek en Hans Strydom moes lekker baklei in Kimberley, en ek het hom maar laat wen. Hy was after all die held in die verhaal. So het ons die 100-jarige bestaan van Johannesburg gevier. 

Agter Elke Man, deur Franz Marx, 1988, regie: Franz Marx en Laurence Lurie.

Ek was ‘n dronk prokureur in die gewilde reeks. Een dag op stel het ‘n wilde laaitie met ‘n welige bos hare my vertel dat hy ook sing. Sy naam was Steve Hofmeyr. Ons het onlangs gekyk na ‘n foto uit die reeks, en gelê soos ons lag.

Ballade vir ‘n Enkeling, deur Leon van Nierop, 1991, SAUK, regie: Henry Mylne.

Nadat ek die temalied vir die reeks geskryf en gesing het, het regisseur Henry Mylne my gevra om die befoeterde tydskrifredakteur, Wynand Malan te speel. Ek sê toe ek het nog ‘n liedjie wat gaan oor treine. Gavin van den Berg het die hoofrol vertolk en daar was ook nog Brumilda van Rensburg, Karin Fourie, Babs Laker, Cobus Rossouw en baie ander.

Death in the Family, 1994, Waterfront Productions, regie: Annie Basson.

Saam met Marius Weyers, Joanie Combrinck, Brian O’Shaughnessy, Bo Petersen e.a. in die sterk Engelse dramareeks wat handel oor gesinsmoord. Ek moes ‘n das dra en my hare vreeslik netjies kam.

Honeytown I & II, 1995,1997, SAUK, regie: Ian Roberts en Etienne de Villiers.

Weer in Engels, teenoor Gavin van den Berg, Juliana Venter, Tim Plewman en ‘n klomp ander. Ek moes berge vol strooisuiker in my neus opsnuif as ‘n kokaien verslaafde. Die alternatief was koeksoda…

Paradys, deur Paul C. Venter, 1998, Eklips, regie: Danie Joubert.

‘n Lekker befoeterde rol in die bos saam met lieflike mense soos Anna-Mart van der Merwe, Lieb Bester, Jan Ellis, Antoinette Kellermann, Lilian Dube en Pierre Knoesen. Ek en Pierre het ‘n bakleiery geskiet, gelukkig op ‘n Vrydag sodat ons die naweek kon herstel. Ons het nie, ons het lank pimpel en pers gebly. Ek het ‘n staalrak vol gereedskap op hom omgekeer. Dankie Jannie Wienand!

Onder draai die Duiwel rond, deur Chris Barnard, 1998, Sonneblom Films, regie: Katinka Heyns.

Ek onthou ek het vir Marius Weyers ingespuit met ‘n naald wat meer geskik was vir perde. Hy was nogal bang. Pret by die dam met Marcel van Heerden, Ian Roberts, Michelle Botes, Grethe Fox, Susanne Beyers, en ‘n klomp ander.

Samaritaan, deur Paul C. Venter, 1999, Eklips, regie: Marikie Longhurst.

Dit was een van my gunsteling rolle. Anna-Mart was my eks, en Pierre Knoesen my broer. Hy het meisies vermoor, en ek was die kettingrokende speurder wat hom moes vang. Die laaste toneel in die laaste episode sal my altyd bybly. Weereens saam met wonderlike spelers soos Marcel van Heerden, Henrietta Gryffenberg, Chris Chameleon, Susanne Beyers, Elize Cawood e.a.

Arsenaal, deur Jan Scholtz, 2002, Scholtz Films, regie: Jan Scholtz

Saam met Ian Roberts, Elzette Maarschalk, Nic de Jager, Lieb Bester, Marcel van Heerden, Hans Strydom e.a. 

Plek van die Vleisvreters, 2004, Kyknet, Regie Gerrit Schoonhoven.

Die keer moes ek toe vir Hans Strydom van ‘n krans af stoot, en hy wou opsluit die stunt self doen. Hy leef nog. Tussen die renosters en leeus buite Krugersdorp het ons die storie van drie mallerige broers op ‘n wildsplaas geskiet. Ook was daar Tertius Meintjies, Anrich Herbst, Dirk Stoltz, Nicola Hanekom, Dorette Potgieter en ‘n klomp ander.

Hart van Staal, 2005, Westel vir Kyknet, regie: Willie Esterhuizen.

My eerste telenovela. Ek speel Willie Brand met Susanne Beyers as my vrou en ‘n menigte kinders, Anrich Herbst, Robbie Wessels, Andrew Thompson en nog baie. Lieflike Liane Heyl was my skelmpie, en Lizz Meiring, Johan van der Merwe, Matt Stern en ‘n klomp ander was ook daar. My Engelliedjie was die temalied.

7de Laan, deur Danie Odendaal, SABC2, 2005 en 2006.

Tokkie, Emma se pa met ‘n duister verlede (en hede), en Inge se beminde krap toe dinge lelik deurmekaar in die Laan. Antoinette Louw het my uiteindelik by ‘n hotelvenster uitgeslinger, super seepfeeks wat sy was, en my na ‘n voortydige en beslis verdiende einde gestuur.

Dryfsand, deur P.G. du Plessis, 2007, Krisan produksies onder regie van Koos Roets.
Ek speel die romantiese hoofrol met die pragtige Therese Benade as my beminde. Na baie jare werk ek weer saam met Koos, en word dit van die lekkerste tye in my lewe. Frank Opperman was my pel, wyle Frantz Dobrowsky my polisiekaptein, met Francois Stemmet, Sandra Ferreira, Marcel van Heerden, Lochner de Kock en natuurlik Flippie se Dakota, waarin ek gevlieg het, so 10 meter bokant die grond.

 Andries Plakdeur P.G. du Plessis, 2007 vir SABC2, regie Koos Roets.  

Nou ja, ek was seker die 23ste keuse vir die rol, maar die enigste wat kans gesien het om al die woorde te leer. Andries Melck, die wit plakker wat moeilikheid soek en in sy mou lag. Watter loutere plesier was dit nie. Saam met Fezile Mpela, Alvin Bruinders, Elize Cawood en Annie Robinson in die rante duskant Krugersdorp. En toe word ek genomineer vir ‘n SAFTA toekenning as beste akteur.

Riemvasmaak, deur Peter en Margaret Goldsmid, 2008, SABC2, regie: Peter Goldsmid.

Hier speel ek die nare kommissaris van bantoesake wat die mense van Riemvasmaak moet verwyder van hulle woonplek. Dirk Stolz het die heeltyd ‘n sambreel oor my kop gehou teen die son, want dit was bloedig warm. Hoe lekker. Toe word ek benoem vir ‘n ATKV Veertjie toekenning vir beste akteur.

Binneland 2008 tot 2018 kykNET.
Pippa se beneukte pa, ‘n Vrystaatse boer wat telkens kom krap aan die Kosters.

Vlug na Egipte deur Paul C. Venter 2015. Regie Human Stark. kykNET.

‘n Splinternuwe reeks uit die pen van Paul C Venter, oor ‘n klomp eksentrieke karakters op ‘n Karoodorpie. Ek speel ‘n lamaboer, Troffel Fouché. Ek het dit oneindig baie geniet in Hanover waar ons verfilm het en waar Paul C. Venter toe gewoon het. Die teks was ‘n plesier om te speel, en net toe ek dink dis nou jammerlik die einde, toe begin skiet ons aan

Terug na Egipte, ook deur Paul C. Venter met Human as regisseur. 

Weer terug Hanover toe, en die genot begin van vooraf. Saam met Rolanda Marais, Karen Wessels, Diane Wilson, Frank Opperman, Wilson Dunster, Leandie du Randt, Chris van Niekerk, Eric Nobbs en baie ander. Die twee reekse word in 2015 uitgesaai. 

ROLPRENTE (Hoogtepunte)

Daar kom ‘n oplewing in Afrikaanse rolprente, en ek kry lekker rolle in

Karate Kallie 2007, waarin ek nie ‘n enkele word spreek nie, maar lank en lekker lag. Wat ‘n plesier.
Bakgat 2 2009, as ‘n befoeterde rugby afrigter saam met ‘n begeesterde span jong mense, en
Fanie Fourie se Lobola 2012, wat drie toekennings op internasionale filmfeeste gewen het (sover).
Die Ballade van Robbie de Wee, 2013, en ek werk saam met Darrel Roodt aan ‘n Deon Meyer teks saam met Neil Sandilands. 
Treurgrond, 2015, weer saam met regisseur Darrel Roodt, en Steve Hofmeyr, Shaleen Surtie-Richards en Jana Strydom.
Alles wat mal is, 2013. Regie Darrel Roodt.
Trouvoete, 2015 Regie Darrel Roodt.

MUSIEK (Hoogtepunte)

Die Lewe is ‘n Grenshotel, saam met Hennie Aucamp, 1979, Windhoek en toer deur Namibia.

Omdat ek kitaar speel moes ek toe die verse van Hennie Aucamp toonset vir ons kabaret in Windhoek. Gelukkig was Hennie se lirieke skitterend, soos altyd. Die vertoning het uitverkoop in Windhoek in die ou Alte Feste. Toe koop die weermag die konsert, gee vir ons ‘n Dakota en twee vlieëniers en daar trek ons, Otjiwarongo, Tsumeb, Grootfontein en Rundu toe, in die middel van ‘n hewige grensoorlog. 

Die Kat Kom Terug SUKOVS Bloemfonrein 1982.
My eerste kabaretvertoning met my oorspronklike liedjies, saam met Marko van der Colff, Sulette Thompson en Karin Retief.

Double Trouble, met Ian Ferguson en Robert Mohr, 1980, Pretoria en Johannesburg. 

Die twee professore het die teks en lirieke geskryf, en ek moes toe skielik die musiek komponeer vir sowat 20 liedjies binne twee weke, terwyl ek voorberei om die dubbele hoofrol te speel in die musiekblyspel. As mens jonk is is niks te veel gevra nie. Groot pret saam met Johan Engelbrecht, Riana Wilkens, Kritch Krook en Laurence Lurie.

Ballade vir ‘n Enkeling, 1986, SAUK TV.

Henry Mylne onthou ‘n konsertjie wat ek in die Sterrewagteater in Bloemfontein gehou het in 1982 met my eie liedjies, en vra my om die temalied te skryf vir sy TV-reeks, Ballade vir ‘n Enkeling. Hy dwing my om die liedjie self te sing, die mense hou daarvan en skielik het ek ‘n nuwe loopbaan. Ek werk saam met Louis van Rensburg aan die klankbaan vir die twee reekse, en ons gaan goud.

Die Sleutelgat Revue, 1988, 1989. Pretoria, Johannesburg, Kaapstad.
In 1987 na ‘n braaivleis gooi ek en Lochner de Kock liedjies bymekaar, en saam met Jan Engelen skep ons die “Sleutelgat Revue”. Hansie Visagie maak vir ons’n mooi marionet en daar trek ons, met gaskunstenaars soos Casper de Vries, Amor Tredoux en Elzabe Zietsman die land vol. Surendran Reddy sluit hom by ons aan op klavier.


Tussen Treine, 1991 Album.

Ek en Lochner maak ‘n album, Tussen Treine, en toe ons weer kyk toe bereik dit goue status. Nie dat ons platemaatskappy ons ooit daarvan vertel het nie.

Vuurklip, 1998 Album.

Ons tweede album onder die musikale regie van Didi Kriel word benoem vir ‘n SAMA toekenning in 1998.

Dorsland, 2001 Album.

Andrew Roos het intussen by ons aangesluit as keyboardspeler. Dit was asof hy gebore was om saam met ons te speel. Ons 3de album neem ons by hom op in Ermelo en stel dit bekend in Maart 2001. Verskeie songs van die album word benoem vir “Geraas” toekennings. Ek het die titelsnit saam met André Swiegers geskryf.

Songs uit my binnesak, 2005 Album.

My spesiale album, naaste aan my hart. Anneke Visagie en Karen Wessels het saamgesing en ek en Andrew Roos het nagte deurgesit in Ermelo met verwerkings en produksie. Dit was tydens die hooggety van doef-doef, maar daar was nog mense wat mooi musiek wou hoor. Die album word genomineer vir ‘n Vonk toekenning as beste Afrikaanse album van die jaar. Een van die snitte, Engelliedjie, word as titelsnit gebruik vir die TV-reeks, Hart van Staal.

Doringdraad, 2000, 2001
So tussendeur skryf ek woorde en musiek vir ‘n woeste en wilde kabaret. Ek wou nog altyd iets van die Chat Noir en vooroorlogse Berlyn probeer herskep. Die mense het gestroom om te kom kyk, maar hulle wou Tussen Treine hoor en sien, nie sekspoppe, gevalle engele en sleazy charismatiese pastore nie.

Lekker volhuise, lekker in die sop. Jammer mense, sal nie weer nie. Potchefstroom (Aardklop). Oudtshoorn (KKNK), Staatsteater en Upington (Kalahari kuierfees), met Karen Wessels en Anneke Visagie onder musikale leiding van Andrew Roos.

Songs uit my Binnesak, 2003

Ek vat die konsert KKNK toe, om die musiek in te speel voor opnames vir die album. Ek, Andrew, Anneke Visagie, Karen Wessels en ‘n vyf-stuk orkes, met al my nuwe liedjies en vertalings van o.a. Herman van Veen en Coot van Doesburg, vertellings en duette.

Sand du Plessis 4(Vier), 2004, 2005
Die vier musikante/songwriters van die titel is Anton Goosen, Piet Botha, André Swiegers en ek. Ons repeteer by Anton se destydse huis langs die Hennopsrivier. In 2004 speel ons voor ‘n uitverkoopte saal in die Sand du Plessis teater in Bloemfontein, en in 2005 weer voor volgepakte sale in Oudtshoorn by die KKNK.

Swerwerspoor,  2011 Album

Almal vra hoekom het dit so lank geneem. Wat kan ek sê, ek werk stadig, met ‘n sagte hand. ‘n Klomp nuwe liedjies, bietjie van alles en vir die eerste keer die glas armonika.

Tydloos, 2012 Album saam met Gerhard Steyn

Gerhard Steyn stel voor ons maak ‘n album saam. Ons neem Tussen Treine, Ballade vir ‘n Enkeling en Plaaskinders op, en sit ons persoonlike gunstelinge van ons vroeëre liedjies op die album.

Ballade vir ‘n Enkeling en die jare daarna 2015. Album.

‘n Versameling van 20 van my geliefkoosde liedjies en duette.

Yster en Vuur 2017. Album.

Nuwe liedjies, nuwe vuur, nuwe musikale inspirasie. Saam met Andrew Roos, Johan Rautenbach, Conley van der Westhuizen en ou vriende maak ons splinternuwe musiek.

ANDER (Hoogtepunte)

Tussenin het ek oorgeklank vir die SABC, en derduisende Afrikaanse lirieke geskryf wat ons opgeneem het vir oorgeklankte Afrikaanse kinderprogramme. Ek was gelukkig om mense soos Amanda Strydom, Nianell, Casper de Vries, Cutt Glas, Rouel Beukes, Jannie Moolman, Lochner de Kock, Anna Davel en baie ander te kon gebruik in die opnames. Ek was ook musiekregisseur vir die plaaslike weergawe van Sesame Street vir die SABC. In 1995 en 1996 word ek benoem vir ‘n Artes toekenning vir spel in, en regie van oorgeklankte programme.Radio is ook ‘n groot gunsteling by my. Leon van Nierop het my my eerste geleentheid gegee met Wolwedans in die Skemer so om en by 1984, en sedertdien het ek soveel rolle al gespeel, en geniet dit nog steeds geweldig baie. Ek is twee keer benoem vir ‘n Artes toekenning vir spel in Afrikaanse radiodramas, in 1994 en 1995, en speel toe 6 jaar lank in Engels vir SAfm in hulle middagsepie, Radio Vuka. Ek skryf ook my eerste radiodrama, “Splinterglas”  wat in 2014 op RSG uitgesaai word. In 2018 word my radiodrama “Laat Herfs” ook op RSG uitgesaai. My Engelse storie, “The Frame” word op SAfm uitgesaai in 2016.